Die beesboerdery is totaal ekstensief sonder die hulp van graanlande in die winter. Dit veroorsaak dat die vernaamste teeldoelwitte vrugbaarheid en aanpasbaarheid is. Diere wat hier presteer, kan feitlik enige plek aanpas.
Wat bouvorm betref is goeie kapasiteit een van die belangrikste eienskappe vir aanpasbaarheid. Vleis-eienskappe, breedte en goeie bene en kloue is nog van die eienskappe wat voorrang geniet.
Daar word ook ernstig gewerk aan die groei-eienskappe in die kudde, waar prestasietoetsing natuurlik baie help. Blup-syfers is ’n handige hulpmiddel, maar syfers is nie altyd ewe betroubaar en konstant nie. Dit word op Weshoek dus altyd in kombinasie met ’n verskeidenheid ander seleksie-kriteria gebruik.
Daar is ’n klompie poenskop-beeste in die kudde, waarvan die persentasie voortdurend vermeerder word. Die poenskop diere moet natuurlik ook voldoen aan al die ander seleksie-kriteria van die res van die kudde.
Jaarliks word daar ook bulle na Vrede Veldbulklub gestuur vir Veldfase toetse, sodat syfers meer akkuraat bevestig kan word.