Weshoek Bonsmaras het in 1997 die eerste paar dragtige Bonsmara beeste aangeskaf uit die Hakplaas en Fortress kuddes. Nadat die koeie gekalf het, is hulle ge-KI en ’n opvangbul is by Fortress geleen.
In die beginjare is hoofsaaklik van KI gebruik gemaak en nog vroulike diere aangeskaf vanaf Sernick, Arcadia en Robco. Opvangbulle is aangeskaf vanaf Fortress, Hakplaas en Gülden Bonsmaras vir die volgende paar jaar.
Gedurende die afgelope sewe jaar is bulle aangekoop van Bostrum, Limerick, Aveling, Marloo, Rutland en Jacusta Bonsmaras. Enkele vroulike diere is ook ingekoop vanaf Marochel en Rutland Bonsmaras.
Die beesboerdery is totaal ekstensief sonder die hulp van graanlande in die winter. Dit veroorsaak dat die vernaamste teeldoelwitte vrugbaarheid en aanpasbaarheid is. Diere wat hier presteer, kan feitlik enige plek aanpas.
Wat bouvorm betref is goeie kapasiteit een van die belangrikste eienskappe vir aanpasbaarheid. Vleis-eienskappe, breedte en goeie bene en kloue is nog van die eienskappe wat voorrang geniet.
Daar word ook ernstig gewerk aan die groei-eienskappe in die kudde, waar prestasietoetsing natuurlik baie help. Blup-syfers is ’n handige hulpmiddel, maar syfers is nie altyd ewe betroubaar en konstant nie. Dit word op Weshoek dus altyd in kombinasie met ’n verskeidenheid ander seleksie-kriteria gebruik.
Daar is ’n klompie poenskop-beeste in die kudde, waarvan die persentasie voortdurend vermeerder word. Die poenskop diere moet natuurlik ook voldoen aan al die ander seleksie-kriteria van die res van die kudde.
Ondanks verskeie terugslae soos strawwe droogtes en 2014 se verwoestende brand, bly dit steeds vir ons ’n groot vreugde en voorreg om met Bonsmaras te boer.
Vir meer inligting gaan na ons facebookpage